Eugène Marais: Die Smid
Eugène Marais
(1871–1936)
Die Smid
Blaas hoog die vlam,
geen floue trek of tam!
Want alles moet verteer –
in gloed verander, eer,
met skitter, skoon en rein,
die wit lig suiwer skyn.
Blaas hoog die vlam!
Die hamer klaar,
die aambeeld daar;
die kleinste ding,
al hoe gering,
verdien die werkmansorg.
Want elk’ gereedskap, swak of sterk,
die maak sy indruk op die werk –
Blaas hoog die vlam!
O, hoog en vry en vroom,
wees beeld van ons gemoed die stroom
van vonk en vlam en vuur
wat oprys oor die muur –
Blaas hoog die vlam!
O, sterk van spier, van harte rein!
Al is die yster groot of klein,
hoe sterk of knap die hand mag wees,
die werk se bron is in die gees.
Geen kraakloos’ tang of suiwer wiel
kom uit ‘n vuile hart of siel –
Blaas hoog die vlam!
Blaas hoog die vlam!
Deur stof- en steenkooldam;
die nawe wat ons boor,
die bande wat ons kort,
die gaan miskien die berge oor,
tot in die verte vort;
– die trekker met sy wa! –
ons werk moet alle swaarte dra.
Deur Dorsland en woestyn
reg in die Noordelyn
die weg van Cham se leër,
verby Ngami-meer;
al met die sonpad mee
tot waar hy opkom uit die see,
– die Trekker met sy wa! –
die verte hou vir hom geen vrees,
hy weet die werksman is getrou gewees.
Blaas hoog die vlam!
Eugène Marais poetry
fleursdumal.nl magazine
More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène