Eugène Marais: Die Lied van Suid-Afrika
Eugène Marais
(1871–1936)
Die Lied van Suid-Afrika
Sy sê: ‘Ek vorder as ‘n heil’ge reg
die vrug van eindelose pyn;
ek smyt hulle oor die berge weg,
en smoor hulle in die sandwoestyn.’
Sy sê: ‘Nooit het ek iets gegee;
ek laat hulle honger, dors en bloei;
hulle worstel deur en sterf gedwee,
en min my as ‘n vlam wat skroei.
Tien male moes hulle veg vir my,
tien male moes hulle kerm en stoei,
tien male in die stof gebrei,
tien male opstaan weer en bloei.
My liefde duld geen ewenaar –
vergeefs die weeklag van die vrou,
van kleintjies al die stom gebaar:
My liefde verg ‘n enkel trou.
Hulle diepste hoop is lang verteer,
vergaan in rook en as en bloed,
hulle sak aanbiddend om my neer,
ek voel hulle trane op my voet.
Ek adem nooit hulle name meer,
nooit kon ek hulle kinders noem;
in vreemde tale hoor ek weer
die dowwe fluistering van hulle roem.
En vlymend soos ‘n swaard, geheg
bly van my liefde slegs die pyn;
ek smyt hulle oor die berge weg,
en smoor hulle in die sandwoestyn.’
Eugène Marais poetry
fleursdumal.nl magazine
More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène