In this category:

Or see the index

All categories

  1. CINEMA, RADIO & TV
  2. DANCE
  3. DICTIONARY OF IDEAS
  4. EXHIBITION – art, art history, photos, paintings, drawings, sculpture, ready-mades, video, performing arts, collages, gallery, etc.
  5. FICTION & NON-FICTION – books, booklovers, lit. history, biography, essays, translations, short stories, columns, literature: celtic, beat, travesty, war, dada & de stijl, drugs, dead poets
  6. FLEURSDUMAL POETRY LIBRARY – classic, modern, experimental & visual & sound poetry, poetry in translation, city poets, poetry archive, pre-raphaelites, editor's choice, etc.
  7. LITERARY NEWS & EVENTS – art & literature news, in memoriam, festivals, city-poets, writers in Residence
  8. MONTAIGNE
  9. MUSEUM OF LOST CONCEPTS – invisible poetry, conceptual writing, spurensicherung
  10. MUSEUM OF NATURAL HISTORY – department of ravens & crows, birds of prey, riding a zebra
  11. MUSEUM OF PUBLIC PROTEST- photos, texts, videos, street poetry
  12. MUSIC
  13. PRESS & PUBLISHING
  14. REPRESSION OF WRITERS, JOURNALISTS & ARTISTS
  15. STORY ARCHIVE – olv van de veestraat, reading room, tales for fellow citizens
  16. STREET POETRY
  17. THEATRE
  18. TOMBEAU DE LA JEUNESSE – early death: writers, poets & artists who died young
  19. ULTIMATE LIBRARY – danse macabre, ex libris, grimm and others, fairy tales, the art of reading, tales of mystery & imagination, sherlock holmes theatre, erotic poetry, the ideal woman
  20. ·




  1. Subscribe to new material:
    RSS     ATOM

Eugène Marais

· Eugène Marais: Sonder betaling · Eugène Marais: Die Naaistertjie · Eugène Marais: Die Smid · Eugène Marais: Klaas Vakie · Eugène Marais: Die Lied van Suid-Afrika · Eugene Marais: Dans van die reën · Eugene Marais: Die stille rusplaas · Eugene Marais: Mabalêl · Eugene Marais: Die Oorwinnaars · Eugene Marais: Diep Rivier · Eugene Marais: Waar Tebes in die stil woestijn · Eugene Marais: Skoppenboer

»» there is more...

Eugène Marais: Sonder betaling

Eugenemarais

Eugène Marais
(1871–1936)

Sonder betaling

Dis kleine dingetjies wat meeste vreugde bring:
van kindertjies wat speel, dié bly gelag;
‘n lewerik wat in wolke sing;
die sag’ bedruis van druppels in die nag.

Swart doringbome teen die Westegloed;
die groen van wuiwend’ gras wat hoog die bult omsoom;
lang lelies in die gras, nes druppels bloed;
die dof’ gemurmel van ‘n waterstroom.

‘n Sware werk goed afgedaan;
‘n wandeling met ‘n vriend wat ons bemin;
die eerste groen langs muur en laan;
die gloed van uit ‘n liefdevolle huisgesin;

die blydskap, uitgestort en vry,
loop on op eensaam’ wege raak.
Dit kos alleen die soek om te verkry:
die dinge wat die Lewe ‘n vreugde maak.

Eugène Marais poetry
fleursdumal.nl magazine

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Eugène Marais: Die Naaistertjie

fleursdumal 500

Eugène Marais
(1871–1936)

Die Naaistertjie

Sjuut! Sjuut! Loop nou sag op die tone,
en loer deur die steier van die hoogrankbone.

Maak g’n geluid, hou die asem in,
en kyk net mooi waar die kweek begin.

Wat sien jy daar? ‘n Fee so fyn
dat die son haar lyfie met goud deurskyn.

Sy het ‘n blaar gepluk met die kleur van wyn,
en sy naai haar ‘n rokkie met spinnerak fyn.

Sjuut! Sjuut! Kom maar weg deur die takkies dik,
ons moet die ou Kleintjie tog nie verskrik!

Eugène Marais poetry
fleursdumal.nl magazine

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Eugène Marais: Die Smid

Eugenemarais

Eugène Marais
(1871–1936)

Die Smid

Blaas hoog die vlam,
geen floue trek of tam!
Want alles moet verteer –
in gloed verander, eer,
met skitter, skoon en rein,
die wit lig suiwer skyn.
Blaas hoog die vlam!

Die hamer klaar,
die aambeeld daar;
die kleinste ding,
al hoe gering,
verdien die werkmansorg.
Want elk’ gereedskap, swak of sterk,
die maak sy indruk op die werk –
Blaas hoog die vlam!

O, hoog en vry en vroom,
wees beeld van ons gemoed die stroom
van vonk en vlam en vuur
wat oprys oor die muur –
Blaas hoog die vlam!

O, sterk van spier, van harte rein!
Al is die yster groot of klein,
hoe sterk of knap die hand mag wees,
die werk se bron is in die gees.
Geen kraakloos’ tang of suiwer wiel
kom uit ‘n vuile hart of siel –
Blaas hoog die vlam!

Blaas hoog die vlam!
Deur stof- en steenkooldam;
die nawe wat ons boor,
die bande wat ons kort,
die gaan miskien die berge oor,
tot in die verte vort;
– die trekker met sy wa! –
ons werk moet alle swaarte dra.

Deur Dorsland en woestyn
reg in die Noordelyn
die weg van Cham se leër,
verby Ngami-meer;
al met die sonpad mee
tot waar hy opkom uit die see,
– die Trekker met sy wa! –
die verte hou vir hom geen vrees,
hy weet die werksman is getrou gewees.
Blaas hoog die vlam!

Eugène Marais poetry
fleursdumal.nl magazine

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Eugène Marais: Klaas Vakie

Eugenemarais

Eugène Marais
(1871–1936)

Klaas Vakie

Hy stoot die voordeur stadig oop,
en in die skadu sien ek hom;
sy swart manel is oopgeknoop,
sy snaakse lyfie hoepelkrom;
sy lang gesig is uitgedroog,
hy staat by my skaars skouerhoog!

Sy ogies knip, sy lippe lag,
sy langbol-hoed is in sy hand;
hy kom van buite uit die nag,
en bly net in die skadurand.

Een kers brand stadig in die tuit,
die ander flikker heen en weer;
en langs my, deur die onderruit,
daar loer die nag so swart as kruit!
Die skadu’s – kort en dik en bont –
spring op die vloer soos lammers rond!

Eugène Marais poetry
fleursdumal.nl magazine

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Eugène Marais: Die Lied van Suid-Afrika

fleursdumal 502

Eugène Marais
(1871–1936)

Die Lied van Suid-Afrika

Sy sê: ‘Ek vorder as ‘n heil’ge reg
die vrug van eindelose pyn;
ek smyt hulle oor die berge weg,
en smoor hulle in die sandwoestyn.’

Sy sê: ‘Nooit het ek iets gegee;
ek laat hulle honger, dors en bloei;
hulle worstel deur en sterf gedwee,
en min my as ‘n vlam wat skroei.

Tien male moes hulle veg vir my,
tien male moes hulle kerm en stoei,
tien male in die stof gebrei,
tien male opstaan weer en bloei.

My liefde duld geen ewenaar –
vergeefs die weeklag van die vrou,
van kleintjies al die stom gebaar:
My liefde verg ‘n enkel trou.

Hulle diepste hoop is lang verteer,
vergaan in rook en as en bloed,
hulle sak aanbiddend om my neer,
ek voel hulle trane op my voet.

Ek adem nooit hulle name meer,
nooit kon ek hulle kinders noem;
in vreemde tale hoor ek weer
die dowwe fluistering van hulle roem.

En vlymend soos ‘n swaard, geheg
bly van my liefde slegs die pyn;
ek smyt hulle oor die berge weg,
en smoor hulle in die sandwoestyn.’

Eugène Marais poetry
fleursdumal.nl magazine

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Eugene Marais: Dans van die reën

E u g e n e   M a r a i s

(1871-1936)

 

D a n s   v a n   d i e   r e ë n

 

O, die dans van ons Suster!

Eers oor die bergtop loer sy skelm,

en haar oge is skaam;

en sy lag saggies,

 

En van ver af wink sy met die een hand;

haar armbande blink en haar krale skitter;

saggies roep sy,

Sy vertel die winde van die dans

en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd

en die bruilof is groot.

 

Die grootwild jaag uit die vlakte,

hulle dam op die bulttop,

wyd rek hulle die neusgate

en hulle sluk die wind;

en hulle buk, om haar fyn spore in die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond

hoor die sleep van haar voete,

en hulle kruip nader en sing saggies;

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

 

En haar krale skud,

en haar koperringe blink in die wegraak van die son.

Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;

sy trap af van die hoogte;

sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;

die asem van die wind raak weg.

O, die dans van ons Suster!

 

Eugene Marais Gedigte

fleursdumal.nl magazine

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Eugene Marais: Die stille rusplaas

E u g e n e   M a r a i s

(1871-1936)

 

D i e   s t i l l e   r u s p l a a s

Drie verse uit “Die Tuin van Proserpina”

Die Juigende, die Sterke –
Die dood sal hom ook raak;
Nooit sal hy vlieg met vlerke
Of pyn in vure smaak.
Die Skoonheid van die rose,
Die kom en gaan van blose
Stoor nooit die Liefdelose –
Waar liefde ons versaak.

Bevryd van dors na lewe,
Van al ons hoop en wee,
Dank ons – bo alle vrees verhewe –
Die gode wat dit gee:
Hier eindig al ons drome,
Hier rus die lewenslome,
Hier vloei die moegste strome
Uiteindelik in die see.

Nòg gloeiend’ son, nòg duister,
Nòg keer van aand en dag,
Nòg waters sag gefluister
Sal ooit die slaap verkrag.
En soeter, sagter, vromer,
Vergeefs kom weer die Somer,
Want droomloos is die Dromer,
Verdiep in ewig’ nag.

 

Eugene Marais Gedigte

fleursdumal.nl magazine

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Eugene Marais: Mabalêl

E u g e n e   M a r a i s

(1871-1936)

M a b a l ê l

Vinnig langs die paadjie trippel Mabalêl;

vrolik klink die liedjie

wat die klingelinge van haar enkelringe vergesel.

Op die voetpad sy alleen,

met die skadu’s om haar heen;

op haar kop die kruik gelig

in gedienstig’ ewewig.

Golwend kleur die hemelboog,

stadig sterf die laaste lig,

en van verre deur die skermmure

winkend blink die eerste vure.

 

Wydgestrek in eensaam’ vrede

lê Rakwen’, die stille, brede;

glansend in die westerpraal,

met ‘n ceintuur in sy diepte van koraal.

En die witgepluimde riet

sing ‘n treurig’ wiegelied,

en buigend vleg ‘n wilwersoom al om

die diepgespieëlde hemelkom.

 

Wag, wag, Mabelêl!

Is daar niks wat jou vertel-

is daar niks wat deur die duister

bang en dringend in jou ore fluister

van die vreeslike gesel

wat jou vrolik’ lied beluister,

wat jou spoor hou, Mabalêl?

Word jy niks gewaar

van ‘n dreigende gevaar?

Voel jy nog nie, kil en snood,

Om jou hart die skadu van die dood?

 

Ver benee die palmietstele

in die bloue duister wag Lalele,

kwintessens van alles boos,

die Wreedheid self, meedoënloos;

met lydsaamheid wat alles kan ontbeer,

wat tyd en toeval kan trotseer;

wat seker as die Noodlot van sy dag

stil-wakker in die diepte op sy ure wag.

Deur winterkou en somergloed,

deur blankend’ droogte en swelgend’ vloed,

deur al die kerende taf’rele,

in sy diepte wag Lalele.

 

As die straaltjie in die sand

deur ‘n vlam-geskroeide land

tussen walle dor en vaal

skaars die rotse van Rakwena haal,

en die hulsels van die riet

‘n rouband bind van swart verdriet

om die groenbedekte kuil

waar die laaste water skuil

en die sugtend’ wind versmag

deur ‘n woedend’ son verkrag, –

roerloos by die skepplek hou Lalele wag!

 

En wanneer in donker nagte

rasend losbreek al die magte

van geweld en storm en vloed,

en Rakwen’ omring van angsgeskreeu,

smagtend sig nog eens te wreek,

soos ‘n swaar gekweste leeu

swart en brullend deur die bome breek; –

blinkend uit die donker kolk, –

vlieg ‘n vlammend’ dolk, –

wat deur stormbanke dig

‘n wêreld van verwoeste loof verlig –

ongeroer deur al die groot krakele

in sy diepte wag Lalele!

 

Droom sy op die kantjie, Mabalêl,

tot haar hart verlangend swel;

in haar peinse ongedeer,

staar sy in die diepte neer,

staar sy in die spieëlgewelf

met die donker reeds omsoom –

tot sy, dromend, self

deel word van ‘n salig’ droom;

uit die wêreld omgekeer

lokkend lag haar beeldjie weer.

 

Stadig deur die rietpensele

opwaarts uit die diepte rys Lalele.

 

Skud jou wakker, Mabalêl!

Sien jy nie die skadu opwaarts wel?

Naar die hoogwal, Mabalêl!

Hou jou mymering vir later –

nooit had vyg of wilg in water

so ‘n gespieëlde metgesel!

Nooit ‘n skrikbeeld uit die holte van die nag,

wat die dromer sug doen na die dag;

nooit onheilige gedaante uit die diepte van die hel

half so dreigend, half so fel

as dié skadu, Mabalêl,

as dié skadu, wat benee jou

uit die diepte opwaarts wel.

 

Voor jou voete, Mabalêl,

deur die westergloor verhel,

waar jy onbedagsaam staar,

sonder ooit gedagte van gevaar,

uit die stroomweg stadig

dryf ‘n halfverdrinkte blaar.

 

Had jy spiere van ‘n tier,

of die vlerke van ‘n gier,

meidjie, niks sou dit jou baar,

want te lank het jy gewag – te laat!

Uit die spieëlvlak omhoog

bars ‘n skuimend’ waterboog;

Oor Rakwena, kalm en breed,

Galm ‘n enkel angsvol’ kreet;

en dan saggies weer

oor alles sak die stilte neer.

 

Winkend deur die skermmure

helder blink die voornagvure.

Uit die donker stilte, skel,

klink geroep na Mabalêl

en die rotse antwoord weer;

maar terugkom sal sy … nimmermeer.

 

Stadig deur die rietpensele

naar die diepte sak Lalele.

 

E u g e n e   M a r a i s   p o e t r y

fleursdumal.nl  magazine

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Eugene Marais: Die Oorwinnaars

E u g e n e   M a r a i s

(1871-1936)

 

D i e   O o r w i n n a a r s

By die kindergrafte uit die Konsentrasiekamp van Nylstroom

 

Oorwinnaars vir ons volk,

bly u vir al wat beste in ons is ‘n ewig’ tolk;

nooit weer sal vyandsvoet u stof so diep vertrap en smoor

dat ons u langer nie kan sien – en hoor.

Nie onse Helde, wat die magtig’ leër

op glansryk’ velde kon weerstaan en keer;

nie onse Seuns, wat aan die galg en teen die muur

die diepe liefde vir hul eie moes verduur;

nie onse Moeders, wat met bloeiend hart en seer,

in swart Getsemane die ware smart moes leer;

nie onse Generaals, vereer met krans en riddersnoer;

– was waardig vir ons volk die hoë stryd te voer

en te oorwin.

Nie ons, met vuile hand en hart ontrou was waardig

om die vaandel hoog te hou.

Maar u, o bleke spokies, in U kermend’, klagend’ wee,

staan voor ons ewiglik beskermend – uit die lang verlee.

E u g e n e   M a r a i s   p o e t r y

fleursdumal.nl  m a g a z i n e

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Eugene Marais: Diep Rivier

Eugene Marais

(1871-1936)


D i e p   R i v i e r
Vertaling van die lied van Juanita Perreira

O, Diep Rivier, O Donker Stroom,
Hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom,
Die lem van liefde wroegend in my hart?
– In jou omhelsing eindig al my smart;
Blus uit, O Diep Rivier, die vlam van haat; –
Die groot verlange wat my nooit verlaat.
Ek sien van ver die glans van staal en goud,
Ek hoor die sag gedruis van waters diep en koud;
Ek hoor jou stem as fluistering in ’n droom,
Kom snel, O Diep Rivier, O Donker Stroom.

Eugene Marais poetry

fleursdumal.nl magazine

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Eugene Marais: Waar Tebes in die stil woestijn

E u g e n e   M a r a i s

(1871-1936)


Waar Tebes in die stil woestijn

Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig’ rotswerk hoog verhef
En Mara in die sand verdwyn;

Waar smôrens van die hoogste krans
Die berghaan draaiend opwaarts spoed
Om uit die gloeiend’ hemeltrans
Met groot geroep die son te groet;

Waar treurig nog die wolfgehuil
Weerklankend in die klowe dwaal,
En grootwild om die syferkuil
Soos skadu’s in ‘n stofwolk maal;

En huiswaarts brommend sluip die tier,
Sy donker moordplek pas verlaat,
Wanneer die eerste grou lumier
Met slepend’ mis die veld beslaat.

O Land van al ons liefde, daar
Sou ek aanbiddend weer
Die kloppe van U hart gewaar,
U moederlike skoonheid eer.

Sou ek een guns nog hier verdien,
– Nog een gebed omhoog verhoord –
Geen mensepraal sou ek wou sien,
Die glorie van geen vreemde oord.
My bede sou net dit verkry: –
Laat weer U eensaamheid my daar
Vir laas met roerend’ mag berei
U groter stilte te aanvaar.

Laat uitlok deur geen suil of steen
‘n Enkel sug of woord van haat;
Met al U vrede om my heen
Sal nagt’liks uit die hemelstraat
Sag neerskyn op my laaste huis
Die vonkelend’ sterrebeeld van U kruis.

Elk’ ydel vrees sal daar verdwyn;
Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig’ rotswerk hoog verhef.

Eugene Marais poetry

fleursdumal.nl magazine

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Eugene Marais: Skoppenboer

E u g e n e   M a r a i s

(1871-1936)

 

S k o p p e n b o e r

I

‘n Druppel gal is in die soetste wyn;
‘n traan is op elk’ vrolik’ snaar,
in elke lag ‘n sug van pyn,
in elke roos ‘n dowwe blaar.
Die een wat deur die nag
ons pret beloer
en laaste lag,
is Skoppensboer.

II

Gewis en seker is die woord:
die skatte wat ons opvergaar,
ondanks die sterkste slot en koord
word net vir mot en roes bewaar.
Net pagters ons
van stof en dons
om oor te voer
aan Skoppensboer.

III

Die heerlikheid van vlees en bloed;
die hare wat die sonlig vang
en weergee in ‘n goue gloed;
die dagbreek op elk’ sagte wang
en oë vol van sterreprag
is weerloos teen sy groter mag.
Alreeds begint die rimpel sny;
oor alles hou die wurm wag
en stof en as is al wat bly:
Want swart en droef,
die hoogste troef
oor ál wat roer,
is Skoppensboer.


IV   L’Envoi

Gewis is alles net ‘n grap!
Ons speel in die komedie mee
geblinddoek met ‘n lanferlap
wat selfs die son ‘n skadu gee.
Wat treur ons tog?
Viool en fluit maak nog geluid,
en lank die nag wat voorlê nog.
Al kan ons nooit volmaaktheid raak,
nog blink die oog en gloei die huid
wat heel die winter blomtyd maak.
Dus onverlee
lag ons maar mee
met elke toer
van Skoppensboer

 

Eugene Marais Gedigte

fleursdumal.nl magazine

More in: Archive M-N, Eugène Marais, Marais, Eugène


Older Entries »

Thank you for reading FLEURSDUMAL.NL - magazine for art & literature